Ek het van kleins af saam met my ouers kerk toe gegaan en in std 6 tot bekering gekom tydens ‘n Jeug-tot-Jeug-Aksie wat by ons skool, DF Malan, aangebied is. Ek het deel geraak van die CSV en was later kringleier – het al die ‘regte’ dinge gedoen, maar tog het ek nie ‘n persoonlike verhouding met Jesus gehad nie. Vandag besef ek dat ek sekere keuses en besluite gemaak het, sonder om Hom daarin te ken en het maar net SY stempel van goedkeuring en seën verwag.
In Mei 1982 het ek opnuut ‘n ‘commitment’ gemaak en doelgerig moeite begin doen om geestelik te groei. Deur die jare het ek verskeie kursusse gedoen by verskillende Bybelskole en later ook formele opleiding by ‘n Internasionale Bybel Kollege. Hoe meer ek leer hoe meer beef ek watter onuitputlike bron die Woord van God is en ek sal ‘n student bly solank ek leef. Die Woord is werklik die Lig op my pad en dis ‘n voorreg en groot vreugde om dit ook met ander te kan deel.
Hoewel ek reeds die afgelope 25 jaar ‘nie amptelik’ in bediening is t.o.v. Gebedsbediening, Jeugwerk, Vroue-Bybelstudiegroepe ens, het ek die voorreg om sedert 2009 voltyds as leraar in die Bediening te staan.
My lewe is ‘n bewys dat ons nooit te oud is om voltyds in die Bediening te tree nie. Ons is ook nie te gering om in SY koningkryk gebruik te word nie. Abba God soek net gewilligheid.
Dis is my passie om mense te help om meer te beleef as ‘godsdiens beoefen’. Die woorde van ‘n lied wat Onbeskaamd sing beskryf dit so goed “lank genoeg het ons buite gestaan, tevrede met die krummels van U heerlikheid…” Die sleutel tot hierdie volheid is Heilige Gees. Dis wonderlik om te sien hoe mense se lewens verander wanneer hulle hierdie waarheid snap.
Ek dank die Here vir my man Barend wat Hom ken en dien, my ruimte gee om my roeping uit te leef, wat my ondersteun en help in elke opsig wat hy kan. Ek eer Abba ook vir my kinders Michelle en Ruan, asook skoonseun André en skoondogter Inge, wat almal Jesus radikaal volg en aktief betrokke is in die uitbreiding van die Koningkryk. Wat ‘n voorreg om te kan sê: “ek en my huis dien die Here”. Alle eer aan ons Koning Jesus Christus.