[Her] Bou (FEBRUARIE)
Na jare kom Nehemia terug en hulle begin die mure in opdrag van die Here weer herbou. Daar is ook baie teenstand. Hul geheim: Hul hart was in die werk!
Drie beloftes vir die hede
Daarom as julle moed geskep het, “Begin met die werk,” sê die Here. Sit die werk voort. Hou aan tot die einde toe. Moenie stop nie. Moenie moed verloor nie.
En die Here gee vir hulle drie beloftes om hulle te bemoedig, dinge wat daar en dan vir hulle waar sal wees.
Hy belowe dat Hy by hulle is, Hy die Almagtige, die woord wat ‘n mens ook in ons geloofsbelydenis kry. Die Here, die Almagtige, dié is by hulle.
Hy herinner hulle aan die belofte wat Hy reeds by die uittog uit Egipte aan hulle gemaak het, dat Hy aan hulle verbind is, dat Hy hulle ooit in die steek sal laat nie, dat hemel en aarde in der waarheid sal vergaan, voor Hy sy verbond met hulle sal opsê.
En hy spel dit nog verder uit vir hulle dat sy Gees altyd by hulle sal bly. God se teenwoordigheid, die krag van sy Gees, sal nooit van hulle af wyk nie. Hulle kan daarop vertrou. Hulle kan daarop staatmaak. Sagaria sou ‘n bietjie later hierby aansluit en vir Serubbabel met dieselfde woorde bemoedig: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.” (Sag. 3:6).