Pierre Fourie

Pierre Fourie
image

Pierre Fourie

  • SENIOR PASTOOR
  • 076 309 2174

Ek het as jong seun groot geraak in die Sondagskool en kinderkrans op ‘n Vrydagmiddag. Later het ek ook by die kerk se KJA aangesluit. Ek was seker so rondom 11 of 12 toe ek my hart vir die Here gegee het. Veral in Hoërskool het ek ‘n baie hegte en intense verhouding met die Here gehad. As jongman het die lewe gebeur en was my verhouding nie so intens met die Here nie.

Ek is na skool met my laerskool liefde Nicoline getroud. Ons het drie seuns en drie kleinseuns. Oor die jare was ons gereëlde kerkgangers en het ook ons kinders so groot gemaak. ‘n Paar dinge het oor my lewenspad gekom en ek is deur donker tye in my lewe. Van die dinge wat gebeur het, het my werklik “gedwing” om terug te keer na die Here. Toe ek opnuut die Here leer ken was ek vuur en vlam en kon maklik die wêreld versit. Hoewel teologie as ‘n rigting in graad 9 deur my gedagtes kom loop het, het my werk loopbaan heeltemal ‘n ander rigting ingeslaan.
Ek was seker in my vroeë veertig toe iemand een aand agter my aangehardloop het en gevra het of ek nog nooit daaraan gedink het om in die bediening te gaan nie. Dit was vir my die teken en ek het myself begin voorberei vir bediening.

Met ‘n ompad en ‘n paar struikelblokke het ek, my vrou en ons jongste seun ‘n bediening op ‘n plaas vir plaaswerkers en hulle gesinne begin. Hoewel ons van die begin af deel was van Familia Christi en nou Nuwe Lewe Familie kerk, was die kerk op die plaas werklik vir ons ‘n leerskool vir die bediening.
Hoewel ek ook op ‘n gereëlde basis by Nuwe Lewe bedien het, het ek eers sowat twee jaar gelede voltyds betrokke geraak by die voltydse bestuur van die gemeente.
Op die oomblik leef ek my passie vir mense deur die bediening uit. Deur die jare het ek vele geestelike kursusse gedoen by verskillende instansies. Ek was ook ‘n student by ‘n Internasionale Bybel skool waar ek ‘n Honneurs in Profetiese bediening voltooi het.

Ek leer nog daagliks van God, die werking van die Heilige Gees en Jesus Christus ons Saligmaker en verlosser.
Nuwe Lewe Familie kerk bied my die geleentheid om my passie vir die bediening uit te leef, by uitreike plaaslik, sowel as internasionaal betrokke te raak en werklik my tentpenne te verskuif.
Ek bly daagliks diep afhanklik van God en sy genade en bly ook nederig, want uit myself is ek tot niks in staat nie.

Skrifte waaraan ek vashou:

JEREMIA 1:5 AFR53

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak.

JESAJA 43:1

Ek het jou by die naam geroep. Jy is myne.

HEBREËRS 13:5(b)

“Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

JOSUA 24:15

Ek en my huis. Ons sal die Here dien.