Familia Christi – Familie in Christus – Nou: Nuwe Lewe Familiekerk
‘n Gemeente met ‘n spesiale roeping – Passievol vir Jesus!
Die gemeente is in 2009 gestig deur ds Tielman Germishuys.
Nadat ons ‘n tyd lank dienste by Schoongezicht Restaurant gehou het, gaan kyk ons na ‘n gebou in die industriële gebied op 12 Maart 2009. Op 14 Maart kom ‘n paar leiers by die gebou bymekaar en sit sommer daar in die stof op die vloer en smeek Vader vir Sy leiding en insig vir die nuwe gemeente. Trane loop en ons ervaar intens Sy teenwoordigheid en ons weet Abba God is met ons.
Ons eerste erediens is op 5 April 2009 met 60 belangstellendes en ons hou kerk in die hoekie van die gebou. Sementvloer en musiekstander vir preekstoel maar ons harte loop oor van dankbaarheid.
Sedertdien beleef ons God se getrouheid op elke vlak van Gemeente-wees. Na ‘n paar jaar by ons eerste adres verhuis ons in November 2011 en deel ‘n gebou met ‘n skool. Op 1 April 2014 neem Elze Radyn die leierskap van die gemeente oor en in 2016 lei die Here ons om ons naam te verander na Nuwe Lewe Familiekerk.
Augustus 2016 begin ons biddend soek na ‘n nuwe perseel. Hier sien ons ook die groter prentjie … potensiaal op ‘n ashoop… en op 4 Desember 2016 begin ons met eredienste by ons huidige adres in Geministraat.
Op 1 Oktober 2022 word Pierre Fourie aangestel as die senior Pastoor by Nuwe Lewe Familiekerk.
Dis steeds ‘n uitsonderlike reis waar ons dag vir dag en maand na maand beleef hoe ons Hemelse Vader vir ons sorg en ons seën. Ons is Passievol vir Jesus en al die eer kom HOM toe.